VLU Ellisras — sluit jaar af

Ellisras VLU sluit 2017 op ’n vrolike noot af

LEPHALALE — Die lede van Ellisras VLU het in styl afskeid geneem van 2017 tydens ʼn geselligheid by Martie van den Berg se huis sowat 20 km buite Lephalale op die Witkoppad.
Elke lid moes ʼn bordjie eetgoed saamneem en die resultaat was ʼn tafel propvol verruklike lekkernye!
Charlene van Eeden, voorsitter van Ellisras VLU, het almal verwelkom en Ria Strydom, voorsitter VLU Bosveldstreek, het die geleentheid geopen en aangehaal uit Galasiërs 5:22: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”. Sy het gesê dat dit dié vrugte van die Gees is wat verhoudings mooi maak.
“Vrolikheid is aansteeklik en die geduld en liefde wat die lede van Ellisras VLU uitstraal is opmerklik. Dankie daarvoor,” het Ria gesê.
Sy het verder gesê dat Marieta Eckard volgende jaar reeds 60 jaar lid is van die VLU.
“Daar is bitter min vroue wat haar dit kan nadoen en ons beplan vir haar ʼn groot verrassing. Haar 60 jaar-lidmaatskap sal tydens die Kongres in Mei 2018 gevier word,” het sy bygevoeg.
Charlene het hierna die voorreg gehad om Bettie Pistorius aan te wys as Lid van die Jaar en Lynetta Fourie het ʼn geskenk ontvang vir 100% bywoning.
ʼn Aangedane Annemarie Els het die nuus gedeel dat hulle aan die einde van die jaar verhuis na Kleinmond in die Wes-Kaap en dat dit haar laaste vergadering saam met die vroue van VLU Ellisras sal wees. Marieta Eckard het ʼn roerende boodskap aan haar voorgelees. Sy het gesê dit voel steeds vir haar onwerklik om te dink Annemarie gaan volgende jaar nie meer deel van die groep wees nie.
VLU Ellisras het die jaar op ʼn gepaste wyse gegroet met “eet, drink en wees vrolik!”

Leave a Reply

%d bloggers like this: