Unitas vier hulle eeu

Onderwysers van Laerskool Unitas by die Tassiekoek, gebak deur Sunel van Blerk

Annemarie Jones
SWARTWATER — Laerskool Unitas in Swartwater het die naweek van 22 September hulle honderdjarige bestaan gevier. Oudleerders het Vrydagaand by die boeresaal bymekaargekom vir ’n gesellige herontmoetingsbraai.
Saterdag se verrigtinge het afgeskop met ʼn opening in die skoolsaal deur ds. Jordt, waarna Hantie van der Watt, Laerskool Unitas se skoolhoof vir die afgelope 11 jaar, aan die woord gestel is.
Hantie het gesê die gemeenskap koester Laerskool Unitas as ’n kleinood en dat alles in die stryd gewerp word om te verseker dat onderrig en opvoeding van hoogstaande gehalte gelewer word.
Op akademiese, sport- en kultuurgebied word alle aktiwiteite met oorgawe en entoesiasme aangepak. Belangrike besluite op kritieke tye is reg gedoen en sodoende het Laerskool Unitas sy karakter behou – ten spyte van vele aanslae.
ʼn Geskiedkundige oorsig het gevolg – vanaf die skool se nederige onstaan in 1917 op die plaas Zwartwater tot vandag. Nico Jones, ʼn oudleerder wat tans op Swartwater woon, het reeds vir ʼn paar jaar intensief navorsing gedoen oor die skool. Die skoolgrond het aanvanklik bestaan uit vier morg wat deur die destydse eienaar van die plaas, Mike Kidson, geskenk is.
Die feesverrigtinge is voortgesit op die skoolterrein waar ’n gedenksteen deur Johan van der Watt (skoolhoof 1981 tot 2003) onthul is. Die Van der Watt-gesin is reeds vir 37 jaar by die skool betrokke. Benewens die ouerpaar as skoolhoofde, was al drie dogters onderwysers by Laerskool Unitas en die drie kleinkinders is tans Tassieleerders.
Die res van die dag se verrigtinge is op die boeresaalterrein voortgesit. Daar was ’n donkiederby waar elke klas verteenwoordig is en die graad 3-leerders as wenners uitgetree het.
Gaskunstenaars Karen Ferreira, Marulaboom, Dewald Wasserfall en Snotkop was nóg ʼn hoogtepunt van die eeufeesvieringe.
Die naweek se verrigtinge is Sondag afgesluit met ’n erediens in die NG-kerk waar die oudste Tassieleerder, tannie Martha Coetzee (93), teenwoordig was.

Leave a Reply

%d bloggers like this: