Twee dood na malaria

Leoni Kruger
Die bekende en geliefde Mara Lottering is Woensdag 3 Mei onverwags dood in die Pretoria-Oos hospitaal nadat sy Malaria opgedoen het.
Volgens ‘n familielid was Mara saam met haar man, Johan, in Pretoria omdat hy ‘n operasie moes ondergaan. Sy het in Pretoria begin siek voel en volgens haar VLU-vriendinne (sy was ‘n aktiewe lid van Beauty VLU) het hulle nog die Dinsdagaand voor haar dood verneem dat sy nié serebrale malaria het nie, maar dat sy baie siek in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal was. Die siekte het blykbaar ook haar niere aangetas en sy het dialise ontvang.
Wilma Lordan, lid van Baltimore VLU, sê sy het Mara vir 18 jaar geken en elke keer wat sy haar gesien het, het sy haar spesiaal laat voel. “Sy was vir my die passievolle versinnebeelding van die VLU vrou en ek het vreeslik baie by haar geleer. Ons het baie gelag en pret en plesier in dié besondere vrou se teenwoordigheid gehad. Sy het baie gegee en min verwag. Op haar mooi manier, sonder eer en roem, was sy ‘n leier en ‘n formidabele vrou. Dankie dat ek jou ‘n vriendin kon noem, dit was ‘n eer. Rus sag, jou plekkie sal altyd leeg wees” het Wilma oor Mara geskryf.
Mogol Pos kon nie daarin slaag om met die familie in aanraking te kom nie, maar het verneem dat Mara op eie versoek nie ‘n roudiens wou hê nie en dat haar liggaam veras sou word.
Hans en Eldi Hoogenboezem van Tolwe het in dieselfde week hulle seun, Jo (20) verloor nadat hy malaria opgedoen het.
Hantie Hoogenboezem, Jo se tannie, het vir Mogol Pos gesê dat haar seun, Jac, en Jo gedurende Paasnaweek saam op die plaas in Tolwe was.
Volgens haar het Jac haar so tien dae later gebel en gekla van kouekoors en lyfseer. Hy is in die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria opgeneem, vir malaria behandel en is die volgende dag ontslaan.
Jo het dieselfde week begin sleg voel, maar dan het hy weer beter gevoel. Toe Jo sy ma egter Sondag 30 April bel om te sê hy is naar en voel baie sleg het sy vir hom gesê hy moet dadelik hospitaal toe gaan. Hy is dié Sondag in die intensiewe sorgeenheid van die Midmed Hospitaal in Middelburg opgeneem en volgens Hantie het hy dadelik suurstof gekry.
Die Middelburg Observer berig op Vrydag 5 Mei dat die malariabehandeling wat Jo ontvang het effektief was en dat sy parasiettelling aansienlik gedaal het, maar volgens Hantie het Eldi haar die Woensdagoggend rondom 04:00 laat weet dat Jo dood is. Sy organe het nie meer funksioneer nie.
Die Hoogenboezems het in Desember 2016 na Tolwe verhuis, maar Jo het aangebly in Middelburg en daar gewerk.
Jo se roudiens is Donderdag om 11:00 by Shielding Heights Ministries in Middelburg gehou waar Jo voor sy afsterwe besig was met sy pastorale studies.
Volgens Phillip Kruger, senior bestuurder van die departement van gesondheid se malariabeheerprogram, is dit uitsonderlik dat malaria steeds in Meimaand voorkom – dit is die eerste keer in 30 jaar. Hy skryf dit toe aan die klimaat en sê daar is gewoonlik êrens in April ‘n kouefront, maar dit was nie vanjaar die geval nie.
Kruger sê dat daar die afgelope maand baie sporadiese malariagevalle aangemeld is in Limpopo – selfs in areas waar daar vir die laaste 20 tot 30 jaar geen malaria aangemeld is nie.
“Die hele area se malariagevalle is op presies dieselfde tyd aangemeld – die naweek van 28, 29 en 30 April. Dit beteken dat dié mense waarskynlik tydens Paasnaweek gebyt is deur ‘n muskiet wat die malariaparasiet dra, want die simptome begin na ongeveer 14 dae wys” verduidelik Kruger. En dit stem dan ooreen met Mara en Jo se gevalle.
Kruger het aan Mogol Pos bevestig dat die departement die hele malaria-situasie gaan herevalueer en aanpas vir die volgende malariaseisoen. Hy het ook gesê dat dit nie sinvol is om die hele Limpopo te bespuit teen malaria nie, maar dat dit beter is om te fokus op sekere areas.

Leave a Reply

%d bloggers like this: