Net genade vir Kristian

Dié foto van Kristian is in 2015 geneem

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die 11-jarige Kristian Prinsloo wat Saterdag 8 April deur een van Cor en Alet Vos se drie leeus aangeval is, was teen druktyd steeds in die waakeenheid in die Mediclinic Muelmed in Pretoria aan ‘n ventilator gekoppel. Twee breinskaderings het getoon dat daar geen breinfunksies is nie.
Kristian het by sy ouma, Marie Strydom (75), gekuier in haar wooneenheid op die Vosse se landgoed, Waterkloof, aangrensend tot Lephalale. Volgens inligting het die leeumannetjie by haar huis ingeloop en op Kristian afgestorm. Marie het vir Kristian gesê om te hardloop, waarna die leeu hom aan die keel gebyt het. Marie het probeer om die leeu se kake oop te dwing om Kristian te bevry en in die proses is sy ook beseer. Kristian het egter baie seergekry en baie bloed verloor. Hy is by Mediclinic Lephalale gestabiliseer waarna hy na Mediclinic Muelmed in Pretoria oorgeplaas is.
Herman Prinsloo, Kristian se pa, het Maandagoggend 17 April gereageer op ‘n Facebookblad wat spesiaal vir Kristian geskep is. “Goeie môre almal, ons het by hierdie punt gekom waar enige moontlike menslike hulp geëindig het en waar net die genade, krag en genesing van God kan oorvat” het hy geskryf. Hy het almal bedank wat vir hulle bid en hulle ondersteun.
Sanet Dippenaar, woorvoerder van Mediclinic Muelmed het Mogol Pos se vraag oor Kristian se breinfunksies en die moontlikheid van herstel beantwoord deur te sê die vrae is klinies van aard en sal slegs deur die traumaspan beantwoord kan word. Die traumaspan was uiteraard nie beskikbaar vir medianavrae nie.
Cor Vos het Woensdagoggend gesê dat hulle die vorige aand by Kristian in die hospitaal was en dat hulle nou net hoop op ‘n wonderwerk. “Dit gaan nie goed met Kristian nie” het hy gesê.
Phillip Matome Monyepao, die direkteur van die nakoming en toepassing van omgewingswette, het bevestig dat Vos wel permitte het om die leeus in hokke aan te hou, maar dat dit heeltemal ongehoord is om die leeus vry te laat rondloop waar daar mense is. Hy het aangedui dat hulle besig is met ‘n ondersoek.

Leave a Reply

%d bloggers like this: