Mev Mediclinic reg vir uitdaging

Dalene de Villiers, Mediclinic Lephalale se hospitaalbestuurder

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dalene de Villiers is pas aangestel as Mediclinic Lephalale se hospitaalbestuurder. (Die hospitaal was die laaste ses maande sonder ‘n bestuurder nadat Andries Engelbrecht, die vorige bestuurder, moes uittree weens siekte.)
‘n Pragtige, petite, goed versorgde vrou stap my tegemoet. Vroulik, maar met ‘n vasberadenheid in haar tred. Sy is reg vir die nuwe uitdaging.
Dis nie Dalene se eerste kennismaking met die Bosveld nie, sy het voorheen in Bela-Bela gewerk. Sy was die laaste tyd verpleegbestuurder by Mediclinic Limpopo in Polokwane, maar dit is wel haar eerste pos as hospitaalbestuurder.
“’n Groot deel van my werk bestaan uit bemarking en om die hospitaal verder te vestig as gemeenskapshospitaal. Ek wil kinders ook graag betrek en besoeke reël sodat hulle kan sien wat ons hier doen en nie bang is vir die hospitaal nie” sê sy.
Dié oud-PUK, predikantsvrou en ma van drie seuns het 40 jaar ervaring in die hospitaalbedryf en sy sien baie uit na haar nuwe uitdaging. Haar primêre doelwit is om te fokus op kwaliteit kliëntediens en natuurlik om met verloop van tyd die bestaande fasiliteite uit te brei en te verbeter.
As eerste indrukke tel, is Dalene se aanstelling ‘n groot aanwins vir die Lephalalegemeenskap!

Leave a Reply

%d bloggers like this: