Matrieks in Las Vegas

LEPHALALE — Die Hoërskool Ellisras se matrieks van 2017 het Vrydagaand 29 September hulle skooljare gegroet met ʼn glansryke matriekafskeidfunksie by die Hervormde Kerk Onverwacht.
Die saal was die ene glans en vere. Pure Las Vegas. (Las Vegas is ‘n stad bekend vir sy lewendige naglewe, gesentreer rondom 24-uur-casino’s en ander vermaaklikheidsopsies). Watter beter tema kan daar vir ʼn matriekafskeidfunksie wees?
Die matriekafskeidopkoms, wat jaarliks ʼn groot geleentheid op die dorp se kalender is, is vanjaar op Laerskool Ellisras se sportvelde gehou, aangesien Hoërskool Ellisras volgende jaar die gasheerskool is vir die Interhoër-atletiek. Die velde word soos goud opgepas en ʼn paar honderd voete en voertuie van soorte is tans buite die kwessie.
Die pawiljoene was gepak met ouers, grootouers, familie en almal in die dorp wat die lieflike skeppings vanjaar wou sien.
Die matriekmeisies het die toeskouers se asems weggeslaan met hulle ontwerperskeppings. Hulle was ʼn toonbeeld van grasie en styl. Die jong manne het geen aks teruggestaan met hulle uitrustings nie. Die dae dat ouboet sy kerkpak afstof vir die matriekafskeid is duidelik lankal verby.
Die matrieks van 2017 bedank almal wat betrokke was by die organisasie en beplanning van ‘n besondere aand.
Daar is nog baie foto’s op Mogol Pos se Facebook-blad. Gaan kyk gerus en deel met jou familie en vriende.

Leave a Reply

%d bloggers like this: