Malaria mania – wat sê kenners?

Leoni Kruger
LEPHALALE — Met die onlangse voorvalle van malaria in Lephalale en omgewing en die gepaardgaande onsekerheid daaroor in die gemeenskap, het Mogol Pos ‘n kenner geraadpleeg oor die voorkoms van malaria in ‘n area wat nie aangedui word as ‘n tipiese malaria-area nie.
Phillip Kruger, Direkteur van Malaria in Limpopo het Woensdag aan Mogol Pos bevestig dat daar die afgelope twee weke wel 15 pasiënte in Ellisras en Witpoort Distrikshospitaal opgeneem en behandel is vir malaria en sowat vyf pasiënte in Mediclinic Lephalale. Hy het ook bevestig dat daar teen druktyd geen sterftes was nie.
Kruger sê die stelling dat Lephalale en omgewing nie ‘n malaria-area is nie, is 99% korrek.
Waarom is hier dan mense wat positief toets vir malaria ten spyte daarvan dat hulle geen malaria-gebied besoek het nie?
Kruger verduidelik dat geen muskiet uitbroei as malariamuskiet nie. Die muskiet moet die malaria iewers kry. Daar is wel mense wat draers is van die malariaparasiet en wanneer so ‘n mens deur ‘n muskiet gebyt word en dieselfde muskiet byt iemand anders, kan die muskiet dit wel oordra.
Hy sê veral in Lephalale is daar baie mense wat van buurlande af kom om te werk en dit beteken dat een van daardie mense ‘n potensiële parasietdraer kan wees.
Kruger beklemtoon die muskiet wat die malaria oordra ‘n spesifieke muskiet is wat normaalweg skaars is in Lephalale en omgewing. Dié muskiet kan haarself wel in dié area vestig gedurende “gunstige” jare wanneer dit baie reën. En dit is waarskynlik wat tans aan die gebeur is. Die verdwaalde muskiet byt iemand en dié kry malaria.
Kruger sê hulle het wel ‘n hele paar malariagevalle die afgelope week gehad langs die Palalarivier en in Shongoane en hulle het dié areas Dinsdag 7 Maart besoek. Daar is egter geen “clustering” opgespoor nie. Hulle het onderneem om sekere areas in en om Lephalale wel met gif te kom spuit om nog voorvalle te probeer voorkom.
Kruger sê daar is geen rede tot paniek nie. Malaria kan baie maklik gediagnoseer en behandel word. Dit is slegs dodelik wanneer die besmette persoon te lank wag voordat hy/sy ‘n dokter besoek omdat die simptome baie dieselfde is as gewone griepsimptome.
Die mees algemene simptome van Malaria is koors, kouekoors, hoofpyn, naarheid en gewrigspyne.
Soos met enige siekte, is dit beter om die korrekte diagnose so vroeg as moontlik te maak, in malaria se geval deur bloedtoetse in ‘n geskikte laboratorium. Pasiënte wat bogenoemde simptome het, veral ‘n hoë koors, moet dadelik ‘n dokter besoek en aandring op ‘n bloedtoets.

Leave a Reply

%d bloggers like this: