Geloofwaardige nuus wat jy kan vertrou

In ʼn wêreld waar daar soveel menings is wat nie noodwendig geverifieer is nie, kan ʼn mens jou maklik laat beïnvloed deur allerlei beweringe en sienswyses deur ander individue.
Vandat die digitale era betree is voel dit vir sommiges of dit die alfa en omega is wat nuus ens. aanbetref, maar die sogenaamde “fake news” het ook al gewys hoe ongesond sosiale media kan wees, veral vir die liggelowiges onder ons. Oor die Bell Pottinger hoef ons nie eers te praat nie. Nog ‘n voorbeeld is die Tumi Morake/Jacaranca FM-storm wat losgebars het en ook uitgekring het na haar kollegas Martin Bester en Rian van Heerden wat chaos op sosiale media veroorsaak het. Dit verskaf dalk baie plesier vir diegene wat van sensasie hou en ook aan diegene wat nie filters het as dit by taalgebruik en beledigende aanmerkings kom, maar, die ingeligte en ernstige leser wil nog steeds geverifieerde smaakvolle nuusberigte lees.
Mogol Pos sê dikwels vir mense om op Mogol Pos se Facebook-bladsy te gaan kyk vir foto’s ens. en hoor gereeld dat hulle glad nie op Facebook is nie, of veral die manne sê hulle facebook nie, net hulle vrouens. Dat sosiale media wel ʼn groot rol in vandag se samelewing speel is egter nie te betwyfel nie, die bykans 6 500 mense wat ons op sosiale media volg getuig tog daarvan.
Die advertensiebedryf kom tans ook voor groot uitdagings te staan, en Mogol Pos is nie gevrywaar nie.
Om ons adverteerders en ander potensiële adverteerders te akkommodeer is ons kliphard aan die werk om ʼn nuwe digitale platform vir adverteerders en lesers te skep, veral omdat Mogol Pos die medium in die omgewing is wat vertrou word. Die feit is egter dat Mogol Pos in gedrukte vorm nog weekliks verkoop en ons wil graag adverteerders gerusstel dat hul geld goed bestee is en dat goedkoper (sosiale media) nié altyd beter is nie. Die verwysingspunt van enige besigheid is bemarking in ʼn betroubare bron gevolg deur uitstekende diens.
Ons wil van die geleentheid gebruik maak om ons getroue adverteerders te bedank vir hul lojale ondersteuning, want as dit nie vir hulle vertroue in Mogol Pos is nie, sou jy nie vandag hierdie en al die ander feitelike nuus kon lees nie. Sou Mogol Pos nie die probleme van die dorp soos byvoorbeeld die riool en toestand van die dorp kon aanspreek nie. Of die nuus van die skole, kerke, Kansa, VLU, ens. kon versprei nie. Swart op wit. Wat gesê is is gesê. Die waarheid. Niks anders as die waarheid nie.

Leave a Reply

%d bloggers like this: