Drinkwater nie drinkbaar

Leoni Kruger
LEPHALALE — Volgens Afriforum se bestuur in Lephalale toon wetenskaplike toetse dat Lephalale se drinkwater nie skoon en veilig vir menslike gebruik is nie. Dié toetse vorm deel van AfriForum se blou-en-groendruppelprojek om te verseker dat dorpe se drinkwater skoon en veilig is.
Afriforum se Ellisras-tak het SANAS (South African National Accreditation System) -geakkrediteerde watertoetse op die dorp se drinkwater uitgevoer nadat aanwysers getoon het dat dit besoedel is. ’n Kraanwatermonster is onder andere by Laerskool Bosveld Primary in Onverwacht geneem.
  “Hoewel daar geen E.coli of fekale koliforme in die water voorgekom het nie, hou dit steeds ’n risiko vir inwoners in. Die kleurwaarde van die water is 46 platinum-kobalt (Pt-Co), wat die limiet van 15 Pt-Co oorskry. Verder toon die getoetste water ’n troebelheidswaarde van 6 nefelometriese turbiditeitseenhede (NTU), wat die limiet van 5 NTU oorskry. Dit beteken dat daar fyn sediment in die water voorkom wat die kleur daarvan verander en skadelike chemiese samestellings kan bevat,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
Mogol Pos het met Jaco gepraat en volgens hom het hulle ‘n brief aan die Munisipale Bestuurder: Lephalale Munisipaliteit gestuur met die eerste uitslae na afloop van die uitslae van die watermonsters. Hulle het in dié brief genoem dat die dorp se drinkwater moontlik vuil en nie geskik is vir menslike gebruik nie. Die brief is op 13 Junie 2017 deur die ontvanger gelees. Grobbelaar sê hy het toe ‘n oproep van ‘n munisipale beampte ontvang waarin hy bevestig het dat daar probleme is met die dorp se watersuiweringstelsel en dat die munisipaliteit aandag gee aan die probleem.
Volgens Grobbelaar het AfriForum op 6 Julie vanjaar ‘n tweede skrywe aan die munisipale bestuurder gerig om haar in kennis te stel dat hulle die opvolgtoetsresultate ontvang het. Die toetse het aangedui dat die water nie drinkbaar is nie en Grobbelaar het daarop aangedring dat die munisipaliteit dringend aandag aan die probleem gee. Teen druktyd was daar geen reaksie van die munisipaliteit se kant af nie.
Grobbelaar maan die inwoners van Lephalale om voorlopig eerder nie kraanwater te drink as die kleur van die water nie reg lyk nie. Hy sê dat die kraanwater op sekere plekke bruin van kleur is.
Die gemeenskap kan AfriForum nader vir ’n toestel wat die drinkwater doeltreffend vir menslike gebruik suiwer tot tyd en wyl die munisipaliteit die probleem oplos.
Intussen word Mogol Pos oorval deur bekommerde inwoners oor die toestand van die water in die Mogolrivier – veral die oewereienaars word daagliks met die verstikkende reuk van riool gekonfronteer en dit is kommerwekkend dat hulle van die rivier se water afhanklik is.

Leave a Reply

%d bloggers like this: