Dr Mariëtte – elke dag beter

LEPHALALE — Dit gaan elke dag ʼn bietjie beter met dr Mariëtte Emslie. Mogol Pos het Woensdagoggend 4 Oktober met haar dogter, Barbara, gepraat.
Barbara (19), ʼn eerstejaar mediese student by die Universiteit van Pretoria, sê die gevoel in dr Mariëtte se bene is nog nie oral terug nie en sy kan haar bene nog nie ten volle beweeg nie, maar dit verbeter daagliks. Die koeël is steeds in haar lae rug, maar dit is onseker of die dokters dit gaan verwyder.
Sy was teen druktyd steeds in die intensiewesorgeenheid in Muelmed Hospitaal in Pretoria, maar sy sou dieselfde dag na die rehabilitasiesentrum geskuif word. Barbara sê haar ma het reeds begin met rehabilitasie, maar dit sou Woensdag amptelik begin.
Dr Werner Emslie se liggaam is reeds veras en die familie wil eers vir dr Mariëtte die geleentheid gee om sterker te word voordat daar enige besluite oor ʼn roudiens geneem sal word. Hulle sou graag wou hê dat sy dit bywoon.
Dr Werner Emslie is Woensdagaand 20 September doodgeskiet in ʼn plaasaanval en sy vrou, dr Mariëtte Emslie is baie ernstig beseer in die voorval. Barbara was tuis tydens die voorval en het hulp ontbied. Sy het geen beserings opgedoen nie.
Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG) wat help met die ondersoek het teen druktyd bevestig dat daar nog niemand in verband met die voorval gearresteer is nie.

Leave a Reply

%d bloggers like this: