HOME / TUISBLAD

Buffelbotsing

Dit is moeilik om te glo dat iemand lewendig uit dié voertuig kon kom

Leoni Kruger
LEPHALALE — Toe Steve, Lynette en Marius Geldenhuys en Sunette van Rooyen Dinsdagoggend rondom 03:45 uit Lephalale na Pretoria vertrek, het nie een van hulle geweet dat hulle ‘n paar minute later met ‘n dooie buffel langs die pad gaan sit nie.
Steve sê hulle het so vroeg gery omdat sy broer, Marius, reeds 07:00 op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg moes wees om ‘n vlug na Dubai te haal.
Hulle het met die nuwe Vaalwaterpad gery en ongeveer 4 km voordat hulle by die berugte brug sou kom was daar ewe skielik ‘n trop buffels in die pad. Hy het stadig gery en sonder enige probleem deur die trop beweeg. Minute later was daar skielik nóg ‘n buffel in die pad. “Dié buffel het half dwars in die pad weg van die ander gestaan. Ek het hom glad nie gesien nie en hom volspoed getref” sê Steve.
Ná die slag het die VW Polo waarin hulle gery het tot stilstand gekom en behalwe vir ‘n stamp hier en daar het nie een van hulle ‘n skrapie opgedoen nie. Steve sê hy het eers besef daar het iets gebeur toe die lugsak hom tref.
Hulle het egter nie baie tyd gehad om te dink wat om te doen nie, want hulle moes betyds op die lughawe wees. Sunette het Johan, haar man, geskakel en hy het Steve se voertuig na die toneel geneem sodat hulle verder kon ry. Dít ten spyte daarvan dat daar gewoonlik nie selfoonopvangs in daardie area is nie. Steve sê dit was opvallend dat daar hoeveel voertuie by hulle verbygery het sonder om te stop om hulle te help.
Die vierstuks was al weer op pad toe die wegsleepdiens die Polo op die toneel gaan haal het. Die Polo is afgeskryf.
Steve sê toe hulle tot stilstand kom het hulle gesien die wilddraad is platgetrap. By navraag is bevestig dat dit ‘n trop jagbuffels is van die plaas Blinkwater wat oënskynlik deurgebreek het.
“Ek ry daai pad van 1985 af gereeld en ek het nog nooit enigiets raakgery nie, hierdie was ‘n eerste en toe is dit sommer ‘n buffel” sê Steve tong-in-die-kies.
Hulle is dit egter almal eens dat hulle ongelooflik dankbaar is dat nie een van hulle seergekry het nie. “Dit was genade onbeskryflik groot” sê hulle.